Breyten Breytenbach - Allerliefste, ek stuur vir jou 'n rooiborsduif


Allerliefste, ek stuur vir jou 'n rooiborsduif
want niemand sal 'n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoof in die lug en ek
weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so bruin op jou vel

Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos 'n engel by jou bly
soos vlerke, wit soos 'n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van die vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie.

Breyten Breytenbach

----

Lees de Nederlandse vertaling op
http://marlou-praathuis.blogspot.com/2010/09/breyten-breytenbach.html